Filtering by Tag: Julius van der Wat

Brothers in everything

Julius van der Wat is truly an inspiration .  
He does not let his disability stand in the way of anything and 
wants to change people's perception of what a normal life is.  
The story was published in the Rapport newspaper.

Julius with his friend and helper Jafta at Helpmekaar in JHB.  
Julius at Helpmekaar where he works as a computer assistant. 
Jafta helping Julius with a drink
 Jafta assists Julius with almost everything from brushing teeth
to eating.
Julius has to be lifted from his chair to take a bath.
 The Ipad has changed a lot of things for Julius. He is now
able to express himself creatively by painting on it. 
Julius on his Ipad.
Julius and Jafta also take part in a Boccia outreach program at a care
center in Johannesburg.
Julius during a Boccia game at the National Champs.
Julius during a Boccia game at the National Champs.

The story as it was published in Rapport.

Julius van der Wat en Jafta Morudu leef voortdurend in mekaar se skaduwee. Die fotograaf Herman Verwey het ’n paar uur in hul geselskap deurgebring. 

Julius van der Wat lei sy lewe met ’n ander man se skaduwee voortdurend langs hom.

Sy skaduwee het boonop ’n naam – Jafta Morudu – en die twee is bykans 24 uur in mekaar se geselskap.

Toe Julius en sy tweelingbroer 36 jaar gelede twee maande te vroeg gebore is, het hy breinskade opgedoen weens sy onderontwikkelde longe.

Hoewel daar verstandelik niks met hom verkeerd is nie, het hy die gebruik van amper al sy spiere verloor.

’n Dokter het destyds vir sy ouers gesê hy sal nooit kan praat nie en dat hulle hom liewer in ’n inrigting moet plaas. 

Sy ouers het die dokter se raad in die wind geslaan – iets waaroor Julius vandag bitter bly is. 

Jafta en Julius se paaie het gekruis toe Jafta vir die gesin as tuinier begin werk het. 

Vandag versorg Jafta vir Julius op ’n heeltydse grondslag en volg hom soos ’n skaduwee. Sonder hom, sê Julius, sal hy nie ’n onafhanklike lewe kan lei nie.

Jafta doen letterlik alles vir Julius – hy sit hom in die bed, help hom bad, borsel sy tande en gee vir hom kos.

“Ons verhouding is een van respek en vriendskap,” sê Julius.

“Ons is soos broers,” sê Jafta. “Ons vee mekaar se trane af en soms stamp ons ook koppe, maar dis soos die lewe is.”

Die 36-jarige serebraal gestremde glo hy is “in die rolstoel met ’n doel” en wil mense se persepsie verander van wat “normaal” is. 

Hy wil wys dat hy net so “normaal” kan leef soos enigiemand anders. 

“As mense met liggaamlike uitdagings meer uitkom in die alledaagse lewe, sal ons as deel van die alledaagse samelewing gesien word.” 

Gedurende die week werk Julius as ’n rekenaar-assistent by die Helpmekaar Kollege in Johannesburg – iets waarop hy baie trots is. 

“Die werk gee my ’n doel in die lewe en dis ’n plek waar ek iets beteken.” 

Verder speel hy gereeld boccia (uitgespreek “bô-tja”), ’n sport soortgelyk aan rolbal, aangepas sodat mense met liggaamlike gebreke ook kan deelneem.

Die doel van die spel is om gekleurde leerballe so na moontlik aan ’n wit merkerbal op die speelbaan te rol. Die spel kan deur individue, pare of spanne van drie spelers gespeel word.

Spelers wat nie die gebruik van hul arms het nie word toegelaat om die bal teen ’n glyplank af te rol. 

Dit doen hulle deur die bal met die kop te stoot.

Julius speel in die BC3-klas, wat beteken dat hy ook ’n assistent mag gebruik om hom te help om die glybaan te skuif. Die assistent moet egter met sy rug na die speelbaan sit.

Julius beduie dus aan Jafta hoe hoog die glyplank moet wees (bepalend vir die afstand wat die bal moet rol) en in watter rigting dit moet wys (sodat hy die bal so na moontlik aan die teiken kan kry).

Op die baan ken hulle mekaar al so goed dat Jafta instinktief die glyplank verstel deur net na Julius te kyk. Julius en ­Jafta is nou die tweede beste boccia-kombinasie in Suid-Afrika vir spelers in die BC3-klas.

Julius sê boccia is baie bevrydend. “Tydens ’n wedstryd is ek in beheer.”

Dit is belangrik vir hom omdat ander mense die meeste van die tyd in beheer van sy daaglikse aktiwiteite is.

Hy glo Suid-Afrika kan baie meer doen om goeie boccia-spelers te kweek. 

“Die sport kry net nie genoeg blootstelling nie.”

Apple se iPad het ook sy lewe ingrypend verander. Sy iPad laat hom onder meer toe om te skilder, iets wat hy nooit voorheen kon doen nie. 
Hy gebruik ’n rekenaarpen wat aan sy helm vasgemaak word en “verf” dan daarmee op die tablet se skerm. 

Julius sê voor die koms van die iPad het hy geen kreatiewe uitlaatklep gehad nie en hy vind dit baie terapeuties. 

Volgens hom is die volle potensiaal van tabletrekenaars vir mense met uitdagings nog glad nie bekend nie. “Die iPad het my lewe verryk,” sê hy. “Ek kan skilder, Facebook, boeke lees en selfs my eie banksake doen.”

Hoewel die lewe nie altyd maklik is vir Julius nie, bly hy positief deur sy doel daagliks na te streef. “Die lewe hang van jou houding af,” sê hy. 

“God maak nie foute nie; ek is so normaal soos enigiemand anders daarbuite.”

Storie deur Herman Verwey